Vrou beroof en aan boom vasgemaak (Beeld – Riata Nel)

’n Vrou van in die 20 is gister op slinkse wyse deur rowers uitoorlê, beroof en aan ’n boom in een van Sasolburg se groen stroke vasgebind.

“Sy het geld by ’n kitsbank getrek toe sy ’n rol geld (banknote) op die grond sien lê het. Sy het dit opgetel en is deur ’n man en ’n vrou genader wat voorgestel het dat hulle die geld deel,” het kapt. Harry Nagel, provinsiale woordvoerder in die Vrystaat, gister aan Beeld gesê.

Sy moes saam met die paartjie na hul huis stap. Hulle het kortpad deur die groen strook by die Checkers-dammetjie gevat, waar die vrou oorval is. ’n Groen strook is ’n kortpad tussen huise, lê agter die huise en het ’n sementstrook vir fietsryers en voetgangers.

“Sy is op die mond geslaan en aan die boom vasgebind. Die rowers het met haar geld gevlug.”

“Sy is reg agter my huis in die groen strook aan ’n boom vasgebind,” het mev. Charmaine le Roux, wat in Oosthuizenstraat woon, gesê.

’n Man het die vrou se gille gehoor. “Hy het hier om hulp kom aanklop en ’n skêr of mes gevra om die vrou mee los te sny.”

“Die vrou se gesig was stukkend geslaan en haar mond was opgeswel. Ons het die
polisie gekontak.”

Die aanvallers het in ’n blou Toyota Tazz gevlug.

Die polisie ondersoek die saak.

 

This entry was posted in Polisie, SAPS. Bookmark the permalink.

Leave a comment